fbpx

Potchefstroom Herald – In pienk korporatiewe drag durf hul die Visrivier aan

“Dié ongemak is niks vergeleke met die vernedering wat arm meisies sonder sanitêre ware moet deurgaan nie. Van hulle gebruik uit desperaatheid koerantpapier, gras en boombas om skoon te bly. Deur net R230 te gee, kan jy ’n meisie hierdie vernedering spaar en dalk help dat sy die eerste een in haar familie word wat skool voltooi en universiteit toe gaan.”

Twee Potchefstromers gaan die Visrivier Canyon in Namibië met korporatiewe drag en ’n pienk aktetas in die hand aandurf om meisies in Suid-Afrika te help om hul skoolloopbane te voltooi.

Cobus Steenkamp en Eunice van Schalkwyk gaan dié deftige stappie van 90km in vyf dae ten bate van Project Dignity aflê. Dis ’n nie-regeringsorganisasie wat hom daarvoor beywer om sanitêre ware aan jong meisies te voorsien sodat hulle nie weens ’n tekort daaraan van die skool wegbly nie. Sue Barnes, stigter van die organisasie, het die wasbare ware ontwerp wat hulle versprei. “So ’n pakkie wasbare sanitêre ware kos R230. Dit hou drie tot vyf jaar en kan ’n meisie deur haar hele hoërskoolloopbaan neem,” sê Barnes.

“Byna sewe miljoen Suid-Afrikaanse meisies tussen die ouderdomme van 10 en 19 jaar gaan gemiddeld ’n week uit elke maand nie skool nie omdat hulle nie sanitêre ware kan bekostig nie. Van hulle verlaat die skool selfs permanent.”
Barnes sê haar organisasie het al meer as 43 000 sanitêre pakkies in Suid-Afrika en in buurlande versprei.
Van Schalkwyk, ’n meestersgraadstudent in omgewingsbestuur, sê sy en haar vriend, Steenkamp, wil die Visrivier Canyon gaan stap om te help met bewusmaking en geldinsameling vir Project Dignity.
Van Schalkwyk stap boonop met pienk hoëhakskoene.

“Dié ongemak is niks vergeleke met die vernedering wat arm meisies sonder sanitêre ware moet deurgaan nie. Van hulle gebruik uit desperaatheid koerantpapier, gras en boombas om skoon te bly. Deur net R230 te gee, kan jy ’n meisie hierdie vernedering spaar en dalk help dat sy die eerste een in haar familie word wat skool voltooi en universiteit toe gaan.”
Steenkamp, ’n dosent in polisiepraktyk aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, het die aktetasse waarmee hy en Van Schalkwyk gaan stap, pienk geverf. Hy dra ook pienk kruisbande en ’n pienk strikdas, omdat dit Project Dignity se kleure is. Hul slaapgoed, kos, eetgerei en klere vir die vyf dae moet alles in die twee tassies pas.
Die staptog val saam met Vrouedag (9 Augustus) en vrouemaand. Steenkamp en Van Schalkwyk dra hul eie koste vir die staptog wat op 7 Augustus begin.

Skenkings word direk in Project Dignity se rekening betaal.

• Om te skenk, besoek projectdignity.org.za vir rekeningbesonderhede, en gebruik die verwysing FishHike. Skenkings kan ook gemaak word deur https://www.backabuddy.co.za/champion/project/fish-river-hike-for-project-dignaty of http://www.subzpads.co.za/donate-now/ te besoek.
• Kontak Steenkamp by 079 184 2268/cobsteen@gmail.com of Van Schalkwyk by 072 967 4804/eunicevs@yahoo.com.

Die rekeningbesonderhede vir Project Dignity is:
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnr: 6249 4489 646
Takkode: 250655
Swiftkode: firnzajj
Verwysing: FishHike

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *