Twee Potchefstromers gaan die Visrivier-canyon in Namibië met korporatiewe drag en ’n pienk aktetas in die hand aandurf om meisies in Suid-Afrika te help om hul skoolloopbaan te voltooi.
Cobus Steenkamp en Eunice van Schalkwyk gaan dié deftige stappie van 90 km in vyf dae ten bate van Project Dignity aflê.
Dit is ’n nieregeringsorganisasie wat hom daarvoor beywer om sanitêre produkte aan jong meisies te gee sodat hulle nie weens ’n tekort daaraan van die skool af wegbly nie.
Sue Barnes, stigter van die organisasie, het die wasbare ware ontwerp wat hulle versprei.
“So ’n pakkie wasbare sanitêre ware kos R230. Dit hou drie tot vyf jaar en kan ’n meisie deur haar hele hoërskoolloopbaan neem,” sê Barnes.
“Byna 7 miljoen Suid-Afrikaanse meisies tussen die ouderdom van 10 en 19 gaan gemiddeld ’n week uit elke maand nie skool toe nie omdat hulle nie sanitêre ware kan bekostig nie. Van hulle verlaat die skool selfs permanent.”
Barnes sê haar organisasie het al meer as 43 000 sanitêre pakkies in Suid-Afrika en in buurlande versprei.
Van Schalkwyk, ’n meesters-graadstudent in omgewingsbestuur, sê sy en haar vriend, Steenkamp, wil die Visriviercanyon gaan stap om te help met bewusmaking en geldinsameling vir Project Dignity.
Van Schalkwyk stap boonop met pienk hoëhakskoene.
“Dié ongemak is niks vergeleke met die vernedering wat arm meisies sonder sanitêre ware moet deurgaan nie. Van hulle gebruik uit desperaatheid koerantpapier, gras en boombas om skoon te bly. Deur net R230 te gee, kan jy ’n meisie hierdie vernedering spaar en dalk help dat sy die eerste een in haar familie word wat skool voltooi en universiteit toe gaan.”
Steenkamp, ’n dosent in polisiepraktyk by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchef-stroomkampus, het die aktetasse waarmee hy en Van Schalkwyk gaan stap, pienk geverf. Hy dra ook pienk kruisbande en ’n pienk strikdas, omdat dit Project Dignity se kleure is. Hul slaapgoed, kos, eetgerei en klere vir die vyf dae moet alles in die twee tassies pas.
Die staptog val saam met Vrouedag (9 Augustus) en vrouemaand. Steenkamp en Van Schalkwyk betaal self vir hul staptog wat op 7 Augustus begin. Skenkings kan direk in Project Dignity se rekening inbetaal word.
Om te skenk, besoek projectdignity.org.za vir die reke-ningbesonderhede, en gebruik die verwysing FishHike.
Skenkings kan ook gemaak word deur https://bit.ly/2n2VUcz of https://bit.ly/2MbP53k te besoek.
Kontak Steenkamp by
079 184 2268 of cobsteen@gmail.com, of Van Schalkwyk by 072 967 4804 of eunicevs@yahoo.com.
Kyk wat pas alles in die tas: https://bit.ly/2LOVtk3